Burgert Pietersz van Dyk, SV-Prog 2

Burgert Pietersz van Dyk, SV-Prog 2

Manlik 1665 - 1720  (55 jare)

Generasies:      Standaard    |    Vertikaal    |    Kompak    |    Blok    |    Teks    |    Kwatierstaat    |    Fan Chart    |    Media    |    PDF

Generasie: 1

  1. 1.  Burgert Pietersz van Dyk, SV-Prog 2Burgert Pietersz van Dyk, SV-Prog 2 is gebore in CA 1665 in Isberg (seun van Pieter Pietersz); gesterf aan 9 Jul 1720.

    Ander gebeuternisse:

    • Naam: Burgert Peterse
    • Naam: Burgert Pietersz van Dijk
    • Weermag: Tussen 24 Mei 1686 en 28 Des 1690; Soldaat- V.O.C.
    • Immigrasie: 26 Sep 1686, Kaapkolonie, Suid-Afrika
    • Burgerskap: 28 Des 1690, Kaapkolonie, Suid-Afrika; Vryburger
    • Beroep: Vanaf 3 Apr 1691, Houtbaai, Kaap, Suid-Afrika; Houtkapper in die "Compagnie se Bosch"
    • Beroep: Tussen 1696 en Mrt 1701, Groenekloof, Kaapkolonie; Landbouer en veeboer
    • Sensus: 1697
    • Sensus: 1700, Kaap, Suid-Afrika
    • Ander: 5 Des 1705; Besoek van Landrost Starrenburg
    • Beroep: CA 1706; Skaapboer
    • Sensus: 1709, Kaap, Suid-Afrika
    • Sensus: Jan 1711, Kaapstad, Kaapkolonie; Adres:
      Opgaafrol
    • Inventaris: 3 Aug 1711, Cabo de Goede Hoop; MOOC8/2.54
    • Inventaris: 17 Jul 1712, Stellenbosch, Kaap, South Africa; MOOC8/2.63
    • Eiendom: Tussen 5 Okt 1712 en 9 Jul 1720, Swartland, Kaap, Suid-Afrika; Adres:
      Coenradenberg (307)
    • Verkoopcedul: 1 Nov 1712, Stellenbosch, Kaap, South Africa; MOOC10/1.74
    • Inventaris: 6 Des 1712, Cabo de Goede Hoop; MOOC8/2.65
    • Inventaris: 15 Jun 1718, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; MOOC8/3.77
    • Vendurol: 17 Jun 1718, Cabo de Goede Hoop; MOOC10/2.2
    • Eiendom: 17 Jun 1718, Swartland, Kaap, Suid-Afrika; Adres:
      Gansekraal
    • Eiendom: 1716–1720, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; Huis en erf in Tafelvallei
    • Testament: 11 Jun 1720, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika
    • Eiendom: < 9 Jul 1720, Drakenstein, Kaap, Suid-Afrika; Adres:
      Leeuwenhoek
    • Sterfte: Tussen 3 Des 1720 en 11 Des 1720, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika
    • Testament: 3 Des 1720
    • Inventaris: 11 Des 1720, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; MOOC8/4.60
    • Eiendom: 1721, Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; Verkoop van huis in Tafelvallei
    • Vendurol: 8 Jan 1721, Cabo de Goede Hoop; MOOC10/2.24
    • Inventaris: 17 Jan 1721, Drakenstein, Kaap, Suid-Afrika; MOOC8/4.59; Adres:
      Leeuwenhoek
    • Vendurol: 24 Feb 1721, Drakenstein, Kaap, Suid-Afrika; MOOC10/2.25; Adres:
      Leeuwenhoek

    Notas:

    Burgert en sy broer Joost het aanvanklik nie van Dyk as van gebruik nie, maar slegs hulle patroniem Pieterse, ook geskryf Peterse of Pietersz. Joost het wel vir 'n wyle in die 1690's geëksperimenteer met van IJsberg (wat ook weer op allerhande wyses geskryf is). Dit was eers rond 1699 wat die broers begin het om byvoorbeeld in dooprekords die van van Dijk náás hul patroniem te gebruik. Vermoedelik is dit om hulle as familie te identifiseer en te onderskei van die baie ander, onverwante Pieterse aan die Kaap.

    Burgert het nie kon skryf nie. Kontrakte is aanvanklik met 'n kruis onderteken, maar later met die letters B P, aanvanklik eers huiwerig en bewerig, maar later meer selfversekerd.

    Burgert word tradisioneel as die jonger broer beskou, omdat hy ná Joost getrou en kinders gekry het. Dit was egter vóór sy verhouding met Maria Matthijsen (en hul buite-egtelike kind saam) aan die lig gekom het. Ons hou egter die benommering van Burgert as tweede stamvader, ná Joost, aan.

    Geboorte:
    Ons skat Burgert se geboorte as om-en-by 1665: soldate wat by die V.O.C. aangesluit het, was gemiddeld 24 jaar oud. Joost en Burgert het in 1686 aangesluit, wat 'n geskatte geboortedatum van 1662 gee. Ons het Joost as ouer broer aangeneem, omdat hy tradisioneel as sulks beskou word (eerste getrou en eerste gesterf).

    In verskeie rekords word hulle plek van herkoms as Isberg, IJsberg, Eijsenberg en ander variante gegee. Dit is nie noodwendig hul gebóórteplek nie, maar wel hoogs waarskynlik. Geen land of provinsie word egter genoem nie en daar is talle dorpies en gehuggies met sulke name in Europa en Skandinawië wat almal kandidate is.

    Sien ook onder-aan die bladsy, by Geskiedenis die artikel Joost en Burgert van Dyk: hul koms en lewe aan die Kaap. Daarin word uitgelê hoekom Burgert se geskiedenis hier so sterk verskil van die 1975-Geslagsregister.

    Vir verdere spekulasie oor die broers se herkoms, sien http://sastamboom.blogspot.com/search/label/van%20Dyk

    Weermag:
    Joost Pietersz. en Burgert Peterse het op 24 Mei 1686 by die V.O.C. aangesluit as soldaat, by die Kamer Amsterdam. Hulle het daardie selfde dag vertrek met die skip "Huis te Zilverstein" vanaf Texel, Nederland. Die skip was onderweg na Batavia (Indonesië), met 'n stop halverwege aan die Kaap.

    Soldate het in prinsipe geen take aan boord gehad nie, hulle was slegs daar om die Nederlandse vestiginge oorsee te bewaak en te verdedig. Hulle kon wel tydens die reis ingeset word as gevaar gedreig het. Daar was ook ten alle tye 'n soldaat voor die kajuit en voor die konstabel se kamer gestasioneer.

    Die broers het geen maandbrief gehad nie, dus het hulle niemand agtergelaat wat hulle nodig geag het om van hul loon uitbetaal te kry nie.

    Hulle het wel 'n skuldbrief gehad waarmee hulle self vooruitbetaal is.

    Sien hier vir meer inligting oor Texel en die V.O.C., verkry tydens 'n besoek daaraan in 2016: http://sastamboom.blogspot.com/2016/01/besoek-aan-texel-nederland.html

    Kliek gerus op die foto's hier onder om die soldyboekinskrywings in detail te sien, of besoek die volgende webblad vir 'n transkripsie en uitleg van die inhoud: http://sastamboom.blogspot.com/2016/10/die-vroegste-rekord-wat-ons-van-joost.html

    Immigrasie:
    Joost en Burgert het se seetog was vier maande, vanaf Texel na Cabo de Boa Esperança, oftwel Kaap die Goeie Hoop. Die gebruiklike term vir die vestiging was Cabo of die Kaap; die naam Kaapstad sou eers baie later gebruik word.

    Aan die Kaap het die broers nog tot 1690 vir die V.O.C. gewerk. In watse funksie, is nog nie ontdek nie. Moontlik as soldate wat die Kasteel of ander geboue moes bewaak, of hulle is moontlik as knegte uitgehuur aan van die vryburgers. Ongelukkig is die beskikbare V.O.C.-kontrakte in die Kaapse argiewe eers van 1691 af, dus is dit onwaarskynlik dat ons ooit sal leer wat die broers presies aan die Kaap gedoen het vóór hulle hul vryburgerskap gekry het.

    Burgerskap:
    Joost en Burgert het op dieselfde dag hul vryburgskap van die VOC gekry en dit het hulle dus vrygestaan om vir hulself te gaan boer of 'n ambag te beoefen.

    'n Vryburger was nie onder kontrak van die VOC nie, en dus nie onderwerpe aan die sg. "Artikelbrief"nie, waarin die disipline en tug aan die VOC-manskappe opgelê is nie. Hulle was wel steeds onderworpe aan die "plakkate" en wetgewing wat die VOC uitgevaar het. Hulle was nie vry om te handel soos hulle wou nie - die VOC het die monopolie op die handelsware soos vee, graan en wyn beheer. Die owerheid aan die Kaap wás die VOC en alle mannelike vryburgers moes 'n eed afneem waarin hulle trou sweer aan die Nederlandse, Oost-Indiese en Kaapse owerheid.

    Vryburgerskap is deur die VOC as 'n voorreg gesien: Vryburgers wat hulle swak gedra, het die risiko geloop om as "onnut instrument" weggestuur te word.

    Beroep:
    Op Dinsdagoggend, 3 April 1691, het die Politieke Raad (die hoogste gesag van die VOC aan die Kaap de Goede Hoop) vergader. Die lede van die raad was dit eens dat 'n groot deel van die Raad al self benadeel is duer die "slordig en onordentlike" gekapte hout wat beskikbaar is - maar die hout is so sleg bewerk, dat dit nie bruikbaar is nie (dat dit voor die voete van die volk weggevoer moet word).

    Hierdie gebrek aan planke ens. daartoe sou lei dat huise, skure, stalle en ander nodige geboue, nie gebou sal kan word nie.

    Vir 'n geruime tyd al, het niemand aangebied om die gesaagde timmerhout teen vasgestelde pryse uit die Compagnie se bos te lewer nie. Daarom het Joost Pietersz en Borchard Pietersz van Isenberg, broers en vryburgers, woonagtig in die Kaapse distrik, hulle by die vergadering gemeld om toestemming te verkry om in die "Compagnie se bosch" in Houtbaai te gaan houtkap. Dit sou gebeur onder sekere voorwaardes en die kontrak sou vir vyf jaar wees en die hout sou te koop aangebied word aan die inwoners van die Kaapse distrik.

    Na "rijpe raadspleging" is eenstemmig besluit om aan Joost en Burgert se versoek te voldoen. Die kondisies en voorwaardes is as volg:

    1. Dat hulle vir 'n tydperk van vyf jaar, met ingang van vandag, toegelaat sal word om in die Compagnie se bos, in Houtbaai geleë, allerhande timmerhout mag kap, saag en bewerk, volgens hulle diskresie ("so sij des best te raade sullen werden").

    2. Om hierdie voorreg te behou, moet hulle jaarlik aan die Edele Compagnie honderd stuks planken lewer - elk 10 voet lank en ten minste 1 voet breed.

    3. As hulle hierdie voorreg verbeur, hulle jaarliks in die Compagnie se bos drieduisend jong eike bome moet plant (wat uit die Compagnie se "planterie" sal kom).

    4. Die pryse waarteen hulle die hout mag verkoop is deur die Raad vasgestel en die broers mag hierdie prys nie oorskry nie.

    Sien gerus die aangehegde PDF om die volledige transkripsie te lees, met dank aan die uitstekende span by TANAP.net, wat al die resolusies getranskribeer het en op hul webwerf beskikbaar stel.

    Beroep:
    Burgert en 'n ander vryburger, Paul Heins, het beide omstreeks 1698 grond in die Groene Kloof in leenbruik gekry van Simon van der Stel en sy seun Willem Adriaan. Die grond was nie slegs as weiland vir vee bedoel nie, maar daar was ook verwag dat hulle die grond sal ploeg en gewasse sou aanbou. Hulle moes ook sorg vir die nodige geboue en krale.

    Henning Huysing het die besit of beheer van die grond in die Groene Kloof oorgeneem en het in April 1701 Burgert en Paul Heins beveel om die gebied te verlaat. As vergoeding is hulle 800 gulde aangebied, maar Burgert het gekant dat hul onkostes reeds 6000 gulde beloop het. Hulle het byna geen voorbereidings vir hul vertrek kon tref nie, met as gevolg dat die vee (wat hulle saam moes neem en waarvoor hulle onderweg nie genoeg weiveld kon kry nie) in groot getalle gevrek of afgedwaal het. Hulle het ook nie tyd gehad om hulle mielies te oes nie en die opbrengs wat dit hulle sou bring het hulle dus ook misgeloop.

    Sensus:
    Joos en Burgert was in 1697 steeds vennote ("compagnons"), Hulle het in die opgaafrol verskyn met die volgende:
    1 vrou (Joost se vrou - Catharina Hendriksz Verburg)

    1 kneg
    2 slawe

    1 snaphaan (geweer)
    1 pistool

    Rol: Deel van huishouding

    Sensus:
    Burgert het in 1700 in die Opgaafrol verskyn.

    Alhoewel Burgert in hierdie jaar nog nie getroud was nie, staan op die opgaafrol dat daar twee seuns in sy huishouding is. Burgert het egter geen seuns gehad in 1700 nie. Hy is in 1701 met Johanna Greeff getroud en sy eerste seun, Matthys, is in 1704 getroud.

    Waarskynlik word hier verwys na Joost se twee seuns - Burgert d'jonge en Hendrik, en dui dit daarop dat Joost en Burgert in dieselfde huis gewoon het.

    Verder verskyn die volgende op die opgaafrol:
    drie slawe
    drie perde
    20 beeste
    350 skape
    1 snaphaan (geweer)
    1 pistool
    1 degen (swaard)


    Ander:
    In Landdrost Starrenburg se ekspedisie in 1705, blyk hulle by Burgert se plaas (moontlik Coenradenberg?) langs te gegaan het onderweg terug. Johannes Starrenburg het van October tot Desember 1705 'n ekspedisie na die binneland onderneem, om met die Gonnemaas, Grigriquaas en Namacqua Hottentots te onderhandel.

    Saterdag den 5 dito [December]
    Marcheerden wy Kaapwaarts, en quamen op den avont op de plaats van Burchard Pieterszoon, daar wy bleven tot
    Sondag den 6 dito
    Dat ik Hartog met alle de manschap, vee, en bagagie na Visschershoek [aan die Dieprivier, ca 33° 47', 18° 33,5'] cours liet nemen, wyl ik den weg over Stellenbosch nam, alwaar ik des avonts in den donkeren aanquam.

    Beroep:
    Op 3 Maart 1706 het hy 350 skape verkoop vir slagting. Hieruit kan ons aanneem dat hy 'n suksesvolle skaapboer was.

    Sensus:
    In die 1709-opgaafrol verskyn Burgert met sy vrou Helena en vier kinders: 3 seuns (Matthys, Adam en Burgert) en 1 dogter (Susanna). Sien "Familie" onder vir meer inligting.

    Verder verskyn hy met die volgende:
    2 slawe
    1 slavin (moontlik Helena Siewerts)

    6 perde
    80 beeste
    800 skape
    4 varke
    4000 wingerdstokke

    5 mud gesaaide koring
    120 mud geoesde koring
    4 mud gesaaide rogge
    4 mud gesaaide gars
    50 mud geoesde gars

    1 snaphaan
    1 pistool
    1 degen


    Sensus:
    Burgert Pietersz. v. Dijk, en vrou Anna Greef
    Mans: 1
    Vrouwen: 1
    Soonen: 3
    Dogters: 1
    Knegts: -
    Slaven: 2
    Slavinnen: 1
    Slaven jongetjes: -
    Slaven meijsies: -
    Paerden: 6
    Ossen: 30
    Koeijen: 30
    Kalven: 20
    Vaarsen: 10
    Schaapen: 800
    Varkens: 3
    Wijnstokken: 5000
    Leggers wijn: 1
    Hoe veel jaer 't land gehad: 12
    hoe veel jaer 't land besaeijt: 12
    Tarwe gesaeijt: 8
    Tarwe gewonnen: 25
    Brood en zaad koorn: 25
    Rogge gesaaijt: 1
    Rogge gewonnen: 0
    Brood en zaad koorn:
    Garst gesaeijt: 1
    Garst gewonnen: 8
    Zaad kooren: 8
    Snaphanen en Carbijns: 1
    Houwens en deegens: 1
    Pistoolen: 1

    Inventaris:
    Na Anna Greeff se dood is haar boedel geïnventariseer. Sien die bron vir die volledige inventaris.

    Die inventaris verwys onder meer na 'n plaas genaamd Leeuwenhok geleë aan die Paerdebergh, asook 50 beeste en 600 skape.

    Rol: Inventariseerder

    Inventaris:
    Na Matthijs Greef se dood is sy boedel geïnventariseer. Die vyf kinders van Anna Greeff en Burgert Pietersz van Dijk verskyn as erfgename.

    Sien die bron vir die volledige inventaris.

    Rol:

    Eiendom:
    Die plaas Coenradenberg is geleë tussen Hopefield en Koperfontein en bestaan steeds. Sien foto's.

    Die ou murasie wat tans daar is, word geskat as 'n eeu of wat ouer as die huidige (dog steeds antieke) plaashuis wat uit 1804 dateer. Daar is 'n kans dat Burgert dit opgerig het.

    Sien ook hierdie skakel vir 'n kaart waarop die plaas se grense verskyn. Dit is die huidige grense, maar sal nie of nouliks verskil met die oorspronklike grense:
    https://www.google.com/maps/d/u/0/viewer?mid=1Qe5TDjEejmVLZKWzRBPbODNOVBg3Y-b2&hl=en&ll=-33.30884010060518%2C18.37474805000001&z=10

    (Kliek, na die kaart gelaai het, bo-links op die ikoon om die indeks van die kaarte te sien.)

    Verkoopcedul:
    Op 1 November 1712 is sommige van Matthijs Greeff se eiendom verkoop tydens 'n vendusie. Die opbrengste sou verdeel word onder die erfgename (waaronder ook Burgert Pietersz. en Anna Greeff se vyf kinders - hulle het hulle oorlede ma se erfporsie gekry).

    Daarbenewens het Burgert ook die volgende op die vendusie gekoop:
    450 skape
    50 p:s skape (ek probeer nog uitvind waarna p:s verwys)
    1 p:s legger met wijn
    8 p:s kalwers
    15 p:s osse
    2 p:s osse met 'n kalf elk
    4 p:s koeie met 'n kalf elk

    1 slaaf genaamd Fontijn.

    Rol:

    Inventaris:
    Op 6 Desember 1712 het die Weesmeesters Matthijs Greeff se eiendom verdeel aan die erfgenamen.

    Burgert Pietersz van Dijk het namens sy kinders onvang:
    1 silwer beker (weegende 9:4 Rijkdsaalders)
    1 paar silwer broeksknope
    1 silwer tandstokkie
    1 paar goue knope

    Sien die bron vir die verdeling van die volledige inventaris.

    Rol:

    Inventaris:
    Na Joost se dood is sy boedel deur sy broer geïnventariseer. Die inhoud gee 'n interessante kykie op die gesin se daaglikse lewe.

    Ten tye van sy dood het hy onder andere gehad:
    1 Hoogduyts Gebedeboekje

    1 slaaf: Anthony van Madagascar

    1 paard
    32 beeste
    1 kalwers

    1 snaphaan

    Sien die bygevoegde PDF vir die hele boedelinventaris.

    Rol:

    Vendurol:
    Op 17 Junie 1718 is Joost se besittings op 'n openbare vendusie verkoop. Hoekom is al sy besittings na sy dood verkoop? Dit is duidelik dat hy geen skuld gehad het ten tye van sy dood nie - enige skuld sou in sy boedelinventaris of vendurol gestaan het.

    'n Klein bietjie lig word hierop gewerp in "Household Inventories at the Cape" deur Carohn Cornell en Antonia Malan (2005).

    As Joost nie uitdruklik in sy testament Helena as die voog van sy kinders aangestel het nie (en dit is debateerbaar of hy het of nie), sou die Weeskamer sy eiendom verkoop het om vir sy kinders te sorg. (Helena kon wel aansoek doen om die voog van haar eie kinders te wees.)

    Die Weeskamer het nie fisies self vir die kinders gesorg nie, maar hulle by ander families geplaas. Klaarblyklik eers by familie of vriende van die familie wat gewillig was, of anders as huishulpe of vakleerlinge by ander burgers. Hulle sorg was deur die Weeskamer betaal en enige erfenis is dan ontvang met mondigwording (25 jaar).

    Burgert het 'n aantal dinge daardie dag gekoop:
    een opstal gen:t e Ganse Craal in 't Swarte Land vir Rd:s 10 (Rd:s = Rijksdaalders)
    1 kist
    1 rol toebak
    1 karritje met 1 balijtje
    86 silvere knoopen

    Burgert van DIjk d'jonge het gekoop:
    1 kooper thee keetleltje en 1 kooper voetje

    Sien die PDF vir die volledige lys van items en kopers.

    Rol:

    Eiendom:
    Burger het sy oorlede broer se plaas en opstal gekoop.

    Sien ook hierdie skakel vir 'n kaart waarop die plaas se grense verskyn. Dit is die huidige grense, maar sal nie of nouliks verskil met die oorspronklike grense:
    https://www.google.com/maps/d/u/0/viewer?mid=1Qe5TDjEejmVLZKWzRBPbODNOVBg3Y-b2&hl=en&ll=-33.30884010060518%2C18.37474805000001&z=10

    (Kliek, na die kaart gelaai het, bo-links op die ikoon om die indeks van die kaarte te sien.)

    Eiendom:
    Dit is nie duidelik wanneer Joost sy huis oorspronklik gekoop het nie, maar dit was waarskynlik dieselfde huis wat in 1720 aan Burgert behoort het - geleë in die Eerste Berg Dwarsstraat. Verkort na Berg Straat, vir 'n kort tydperk Venus Straat, toe terug na Berg Straat en na 1830 genoem St. Georges Straat in Kaapstad.

    Dit is waarskynlik dat die gesin hier gewoon het, en nie op die plaas Ganzekraal nie. Joost en/of slaaf/kneg sou na die Ganzekraal gegaan het om met vee daar te wei.

    In 1716 het Joost sy huis aan Burgert verkoop. Die verkoper se naam word sonder voornaam gelys as Pietersz van Dijk, maar gesien dat die koper Burgert Pietersz van Dijk is, kan ons aanneem dat die verkoper Joost was. (Hulle was immers die enigste Pieterz van Dijks aan die Kaap.) Dit betref 'n huis en erf in Tafelvallei (die eiendom se naam word slegs gegee as H1), en was 0.035 morg oftwel sowat 300m2. Geen bedrag word genoem nie.

    Die transaksie is egter 'n bietjie raaiselagtig: want in 1718 word dieselfde eiendom (H1, 0.035 morg) weer verkoop deur Joost Pz van Dijk aan ene Christiaan Wynands/Wijnarts (prys: 5550 gulden. Hierdie is dieselfde persoon wat in Joost se boedelinventaris en vendurol as die huurder van Joost se huis verskyn. Christaan het 'n aanbetaling van 2700 gulden gedaan.

    Spekulasie: moontlik het Christiaan die huis gekoop, en daar gewoon terwyl hy dit afbetaal het (en was dit nog nie afbetaal teen Joost se dood nie).

    Die huis is weer na Burgert se dood deur sy skoonseun, Andries Mulder gekoop.

    Spekulasie: dit is moontlik dat Joost en Burgert se gesinne almal hier gewoon het - en dat die perseel uitgebrei is met 'n tweede erf en huis (wat sal verduidelik hoekom die eiendom se oppervlak in 1721 gegee word as 0,076 morg).

    Testament:
    Op hierdie dag het Burgert Pietersz. van Dijk en Helena du Toit hulle gesamentlike testament opgestel.

    Eiendom:
    Leeuwenhoek was Burgert se eie eiendom, en nie 'n plaas wat hy onder die erfpagstelsel gekry het nie. Die plaas was 60 morg, oftewel sowat 51,392 hektaar.

    Die plaas is na sy dood in 1721 deur sy swaer, Hendrik Greeff, gekoop vir 6425 Gulde.

    Dit is nog nie duidelik presies waar die plaas geleë was nie.

    Sterfte:
    Burgert se sterfte is ietwat van 'n raaisel. Lank het ons sy sterfdatum gehad as 9 Julie 1720, na aanleiding van die inskrywing in die Huis te Silverstein se skeepsoldyboek:
    1720. 9 Julij als vrijman aan de Caap sonder testament te maaken, vrouw en kinderen nae latende overleden.

    Maar tog kan hierdie nie korrek wees nie, want Burgert het op 3 Desember 1720 weereens voor die klerk Hendrik Swellengrebel verskyn om sy testament van 11 Junie 1720 ongeldig te verklaar.

    Op 11 Desember 1720 is hy reeds oorlede en word sy boedel geïnventariseer.

    Ek het nog nie 'n ander geval teëgekom waar die boedel só vinnig na 'n persoon se afsterwe geïnventariseer is nie. Dit is moontlik dat Burgert baie siek was en verwag het om enige dag te sterf. Sy handtekening in sy testament is ook uiters bewerig geskryf. Ek kan nie verklaar hoekom hy sy eerste testament ongeldig verklaar het nie.



    Testament:
    Burgert het op 3 Desember 1720 weereens voor die klerk Hendrik Swellengrebel verskyn om sy testament van 11 Junie 1720 ongeldig te verklaar. Hoekom hy dit nie gedoen het nie, is nie duidelik nie.

    (Transkripsie daarvan is by die inskrywing van 11 Junie 1720.)

    Inventaris:
    Op 11 Desember 1720 is van Burgert se boedel wat deel van sy Tafelvallei-huis vorm, geïnventariseer.

    Die inhoud daarvan bied genoeg vir die verbeelding om te kan indink hoe die gesin gelewe het. Anders as by die inventarisering van Joost se boedel, word daar nie genoem hoeveel kamers die huis het, en watter items waar gevind is nie. Dit is wel duidelik dat Burgert meer wel-af as Joost was.

    Sien die bygevoegde PDF vir die hele inventaris.

    'n Aantal interessante items, is byvoorbeeld:
    1 pruik
    1 ou skildery
    1 silwer tandestokkie
    3 beddens met ses bed kussings (matrasse, neem ek aan)

    Eiendom:
    Hierdie huis is dieselfde eiendom (H1, eiendomsnommer 1174) wat Joost op een of ander manier aan beide Burgert en Christiaan Wijnants verkoop het. Alhoewel slegs die jaartal gegee word, is dit duidelik reeds na Burgert se dood (dit is ook as boedeltransaksie gemerk). Die eiendom verskyn egter nie in die boedelinventaris of vendurol nie.

    Pogings om die oorspronklike aktes op te spoor is gaande. Dit sal hopelik ook kan verklaar hoe die eiendom in grote verdubbel het - in 1716 was dit 0.035 morgen, in 1721 was dit 0.076 morgen.

    Vendurol:
    Op 8 Januarie 1721 is Burgert se boedel wat deel gevorm het van sy Kaapse eiendom verkoop op vendusie. Soos ek verstaan is dit om die Weeskamer voldoende fondse te gee om vir sy kinders te kan sorg. (Burgert het sy testament, waarin hy die kinders se stiefma, Helena du Toit, as voog aanstel na sy dood, ongeldig verklaar.)

    Sien die aangehegde PDF vir die volledige transaksies. 'n Paar word hier onder uitgelig:

    Ene "Juffrouw van Dijk " het die volgende gekoop:
    1 asgraaf met vuurtang
    1 kapmes met yster "konvoor"
    2 ysterpotte
    12 "jatte" planke
    4 balke
    3 komberse
    1 "kadel"
    1 kis "met sijn bollen"

    Hierdie was moontlik sy dogter Susanna van Dyk. Haar man, Andries Mulder, verskyn ook as een van die kopers. 'n Ander moontlikheid is sy ander dogter, Maria.

    Inventaris:
    Op 17 Januarie is Burgert se eiendom op die buitenpost den Leeuwenhoek geïnventariseer.

    Sien die PDF vir die volledige inventaris. As mens kyk na die groot hoeveelheid bruikbare items (byvoorbeeld borde, ens.) dan wil dit voorkom asof die gesin/familie in 1720 hier woonagtig was.

    'n Paar items word uitgelig:
    1 plaats gelegen aan de kleijne Paerde Berg gent: den Leeuwehoek
    1 opstal gelegen in 't Swarteland gen:t Coenraats Bergh

    1 tin soutvaatjie
    1 tin mosterpot
    1 tin "trek"-pot
    4 geraamde "prentjes"


    484 skape
    189 beeste
    9 perde

    Vendurol:
    Burgert se eiendom op den Leeuwenhoek is van 24-26 Februarie 1721 tydens vendusie verkoop. Sien die PDF vir al die transaksies. 'n Aantal word hier onder uitgelig.

    Burgert van Dijk de jonge:
    1 partij teer putsen en smeer potten

    Burgert van Dijk (moontlik Joost se seun?)
    12 jate planken
    3 vaten

    Juffrouw van Dijk
    1 ijsere schroef
    1 paert
    1 bed
    1 bed
    1 peuluw met 2 kussens
    1 peuluw
    1 peuluw
    5 kussens
    2 kussens
    2 kussens
    1 ledikant
    [bed se raamwerk]
    1 vierkante tafel
    1 bennetje, 1 blikke tee bus, 6 vorken, een sout vat en een kommetje
    1 tee bak met wat teegoet
    1 ijsere pot met een schoorsteen ketting
    1 ijsere pot met een schoorsteen ketting
    1 mans slaef gen:t Aren
    1 mans slaef gen:t Javaen


    Sterf:
    Aldus die skeepsoldyboek is Burgert op:
    1720 9 Julij als vrijman aende Caep sonder testament
    te maeken, vrouw en kinderen van lastende, overleden.

    Maar, hy het wel deeglik 'n testament opgestel, op 11 Jun 1720 (CJ 2651). Die dokument is egter nooit geliasseer/gekopieer na die MOOC-reeks soos alle ander testamente nie. Waarom nie?

    En wat van die datum? Aldus Burgert se testament, het hy persoonlik op 3 Desember 1720 voor Hendrik Swellengrebel verskyn om die testament te wysig. Waarskynlik in lewende lywe, wat vraagtekens werp op die datum genoem in die skeepsoldyboek.

    Die addendum is moeilik te verstaan en, indien dit 'n omstrede wysiging is, kan dit die raaisel help oplos.

    Burgert getroud Maria Matthysz Eali in CA 1694inKaapkolonie, Suid-Afrika. Maria engesterf. [Groepsblad] [Family Chart]

    Notas:

    Getroud:
    Burgert en Maria Matthysz. was nooit getroud nie, maar die sagteware bied nie 'n opsie om 'n buite-egtelike verhouding as gebeurtenis te skep nie.

    Hierdie verhouding kom nie voor in die 1975-register nie en is ontdek tydens 'n soektog na die "suster" van die twee broers waarvan die 1975-register melding maak. Hierdie soektog word onder in detail beskryf in die artikel "Joost en Burgert van Dyk: hul koms en lewe aan die Kaap" (sien Geskiedenis, onder).

    Om dit kortliks te beskryf: Maria Matthysz. was 'n geskeide vrou wat vir Burgert gewerk het as huishoudster in die 1690's. In die tydperk het sy 'n dogter gehad, ook genaamd Maria, wat op 5 September 1694 gedoop is. Maria Matthysz. se gewese man, Johannes Rijckman, is reeds in 1691 oorlede, so hy kon nie die vader gewees het nie.

    Maria (die dogter) het deur die lewe gegaan as Maria Eal/Eali en het in 1714 met Johannes Bastiaanse getrou. In een dokument wat na haar en haar man verwys, word sy Maria Elij genoem, maar in hul huweliksinskrywing verskyn sy met die van van Dijk.

    Die waarskynlikste verduideliking is dat Burgert haar biologiese pa was, wat haar erken het en toestemming gegee het om die van Dyk-familienaam te gebruik toe sy volwassenheid bereik het/wou trou het.

    Maria Matthijsz. is in 1697 oorlede. Burgert het haar boedel geïnventariseer (iets wat gewoonlik deur 'n familielid of vriend van die familie gedoen is).

    Kinders:
    1. Maria Pietersz van Dyk is gedoop aan 5 Sep 1694 in Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; gesterf voor 1723.

    Burgert getroud Anna Greeff aan 12 Feb 1701inStellenbosch, Kaap, South Africa. Anna (dogter van Matthias Greeff, SV-Prog en Susanna Claassens) is gedoop aan 7 Okt 1685 in Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; gesterf in CA 3 Aug 1711inKaapstad, Kaap, Suid-Afrika. [Groepsblad] [Family Chart]

    Notas:

    Getroud:
    den selven dato [den 12 feb 1701]
    Burgert Pieterse Van Dijk, met Joanna Greef

    Kinders:
    1. Susanna van Dyk is gebore in CA 1702 in Kaap, Suid-Afrika; gesterf na 6 Mei 1768.
    2. Matthys van Dyk is gedoop aan 7 Sep 1704 in Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; gesterf tussen 12 Jul 1712 en 11 Des 1720.
    3. Adam van Dyk is gebore in CA 1705; is gedoop aan 18 Jul 1706 in Stellenbosch, Kaap, South Africa; gesterf in Des 1737inKaap, Suid-Afrika.
    4. Burgert van Dyk is gebore in CA 1708; is gedoop aan 1 Sep 1709 in Stellenbosch, Kaap, South Africa; gesterf in CA 6 Mei 1768inKaapstad, Kaap, Suid-Afrika.
    5. Tobias van Dyk is gedoop aan 28 Jun 1711 in Kaapstad, Kaap, Suid-Afrika; gesterf aan 17 Mei 1792.

    Burgert getroud Helena du Toit na Aug 1711inKaap, Suid-Afrika. Helena (dogter van Francois du Toit en Susanne Seugnet) is gebore voor 8 Mei 1695 in Paarl, Kaap, Suid-Afrika; is gedoop aan 8 Mei 1695 in Paarl, Kaap, Suid-Afrika; gesterf na 1779inKaap, Suid-Afrika. [Groepsblad] [Family Chart]

    Notas:

    Getroud:
    Burgert se vorige vrou, Anna Greeff, se inventaris is op die 3de Augustus 1711 opgestel. Ons neem aan dat Burgert ná hierdie datum hertrou het. Dat Burgert en Helena wél getroud was, weet ons uit hul testament, waarin hulle as "egte luijden", d.w.s. 'n getroude paartjie, beskryf.


Generasie: 2

  1. 2.  Pieter Pietersz is gebore in in Europa; engesterf.

    Ander gebeuternisse:

    • Verwysingsnommer: Plekhouer vir broers

    Notas:

    Pieter PIETERSZ is hier geplaas as 'n plekhouer vir die twee VAN DYK broers se vader vir tegniese redes. Dit is nie noodwendig sy naam of van nie.

    Kinders:
    1. Joost Pietersz van Dyk, SV-Prog 1 is gebore in CA 1662 in Isberg; gesterf aan 1 Feb 1718inKaapstad, Kaap, Suid-Afrika.
    2. 1. Burgert Pietersz van Dyk, SV-Prog 2 is gebore in CA 1665 in Isberg; gesterf aan 9 Jul 1720.