Die verskillende Van Dyks wat na Suid-Afrika gekom het
'n Stamvader is enige manlike persoon wat na Suid-Afrika gekom het en hier afstammelinge gekry het. In Suid-Afrika het meerdere, onverwante mans met die van "van Dyk" in verskillende periodes na Suid-Afrika gekom en hier families gestig - hulle word beskou as die stamvaders van die Van Dyk-families. Hierdie verskillende stamvaders se nageslagte is dus nie aan mekaar verwant deur hul Y-DNS nie, maar soos elke Suid-Afrikaanse genealoog intussen al geleer het, is meeste Suid-Afrikaners tog wel op een of ander manier aan mekaar verwant. Hou in gedagte: 'n persoon wat in die 1980's gebore is, sou 10 generasies terug (ongeveer 1660-1730) 1024 voorouers gehad het - in daardie tydperk was daar nie eers soveel (volwasse) vryburgers aan die Kaap nie! Daar is dus baie gekruisde takke in ons almal se stambome, maar omdat Y-DNS slegs van vader tot seun oorgedra word, kan ons wel onderskeid maak tussen die verskillende Van Dyk-lyne.





