Cornelis van Dyk

deur Anrie Hoogendoorn-van Dyk
09.06.2018

Let wel: meeste bronne word op Cornelis se profielbladsy gegee. Slegs dié wat nie daar verskyn nie, kan hier gevind word.

Cornelis van Dyk verskyn in sommige bronne (byvoorbeeld SAF,[1] SAG,[2] en Pama, 1981[3]) as 'n moontlike Van Dyk-stamvader. Waarskynlik het hierdie bronne bloot die inligting uit die 1890 Geslacht-Register der Oude Kaapsche Familien gespoeg en -plak, want hulle bevat almal dieselfde inligting:[4]

    Cornelis van Dijk, van Amsterdam, x 23 December 1792 met Anna Catharina Pieters.

Geen nageslag word genoem nie - tereg ook, want Cornelis van Dijk het homself nooit werklik in Suid-Afrika gevestig nie en kan as sulks nie as 'n Suid-Afrikaanse stamvader beskou word nie. Sy lewe is egter 'n interessante een, en is een wat hy met 'n Suid-Afrikaanse vrou gedeel het. Hierdie vrou kan as die moontlike stammoeder van 'n Van Dyk-familie in Engeland beskou word, soos ons weldra sal sien.

Cornelis van Dyk is ongeveer 24 Junie 1767 gebore in Amsterdam, Nederland as die derde van agt kinders. Sy ouers, Jan van Dyk en Antje Cornelis, het hom op 26 Junie 1767 in die Lutherse Kerk in Amsterdam gedoop.[5] (Anders as in Suid-Afrika in dié tyd, is kinders redelik vinnig ná hulle geboorte gedoop.)

Uit 'n verklaring van Cornelis weet ons dat hy oorspronklik as "hooploper" ('n onervare matroos) in diens van die V.O.C. getree het. Daar is twee rekords van 'n Cornelis van Dijk uit Amsterdam wat as hooploper by die V.O.C. aangesluit het: een uit Oktober 1777 en 'n ander uit Julie 1782. Dit kan nie met sekerheid gesê word of dit hier om "ons" Cornelis gaan nie, maar dit is waarskynlik dat ten minste één van hierdie op hom betrekking het.

Teen 1783 is hy bevorder tot konstabelmaat op die skip Gerechtigheid.

Cornelis sou lank vir die V.O.C. gewerk het, op onder meer die volgende skepe:

Dit is ook rond hierdie tyd wat hy sy toekomstige vrou ontmoet het: Anna Catharina Pieterse. Sy was die dogter van Roelof Pieterse (van Amsterdam) en Rachel Susanna Geere, gedoop op 16.01.1774 te Kaapstad. [6] Cornelis en Anna is op 23 Desember 1792 in Kaapstad getroud.

[7]

Cornelis het transportgeld betaal sodat sy vrou met die Sterreschans saam met hom na Batavia kon reis. Die skip het egter op 20 Mei 1793 aan die kus by die Kaap gestrand en die paartjie moes aan die Kaap bly. Cornelis het in hierdie tyd ook baie siek geword en, gepaard met die vergaan van sy skip, is hy (in sy eie woorde) sonder werk en in armoede gelaat. In Julie van dieselfde jaar het hy weer die V.O.C. benader en gevra dat hulle hom weer sal aanstel as "Kaptein ter See". Waarskynlik het hulle op sy versoek ingegaan, want in November 1793 was Cornelis die gesaghebber op die pakketboot De Star. Minder as 'n jaar later dien hy op 20 Junie 1794 'n versoek in om terug te keer na Nederland, saam met sy vrou Anna.

Hulle het waarskynlik nie al te lang daarna nie teruggekeer, want op 2 April 1795 het die paartjie hul eerste kind gedoop in Amsterdam: Cornelis Johannes, gebore op 31 Maart 1795. Jan en Antje, Cornelis Sr. se ouers, was die getuies by die doop.

Die paartjie het egter nie lank in Nederland vertoef nie. Hulle duik weer op in Londen in 1797, waar hulle hulle tweede kind doop: George August van Dyk. Ook hulle derde kind, Harry Stoe is vermoedelik daar gebore, op 11 November 1799 . In Harry se dooprekord word gemeld dat sy pa 'n "mariner" is, dus is dit moontlik dat Cornelis ten tye van Harry se geboorte vir die Britse East India Company of ander handelsmaatskappy gaan werk het.

Die gesin het nie lank in Londen gewoon nie: teen 1804 was hulle in Guyana, in die Nederlands-Engelse kolonie Demerara. Ek sê "Nederlands-Engels", want die twee lande het 'n tyd lank "pass the parcel" met die kolonie gespeel:

In 1781 was Demerara en Essequibo in die hande van die Nederlanders (na dit al 'n paar keer van soewerein verander het). Die Britte het die twee kolonies ingeneem na die Nederlanders die kant van die Amerikaners in die Amerikaanse Burgeroorlog gekies het het. Die kolonies is in 1782 weer deur die Franse ingeneem en, na die ondertekening van die Vrede van Parys in 1783, is die kolonies weer aan die Nederlanders gegee. 13 jaar later het die Britte hulle egter weer ingeneem, maar het Demerara aan die Nederlanders gegee as deel van die Verdrag van Amiens in 1802 - net om dit 'n jaar later weer in te neem. Nederland het egter eers in 1815 amptelik afstand gedoen van Demerara; 'n jaar nadat die Britte Demerara en Essequibo saamgevoeg het as één kolonie.

Tydens die Van Dyk-Pieterse gesin se verblyf daar, het die plaaslike koerant, die Essequebo and Demerary Gazette berigte in Nederlands sowel as Engels geplaas. Die gesin het gewoon op 'n suikerplantasie genaamd Jacoba Constantia, met 25 slawe. Cornelis het reëlmatig tussen Demerara en Londen gereis om goedere te vervoer. Een lading het byvoorbeeld uit die volgende bestaan:

Choice Pieces of smoked beef, dried and pickled tongues, red herrings, pickled tripe, Westphalia hams, pine and loaf cheese, Dutch and Irish butter, kegs sour crout, dried beans, split peas, barley, oatmeal, boxes ling fish, hyson tea, refined sugar, vinegar, olives, capers, celery seed, mustard, India soy, fish sauce, raisins, currants, almonds in shells, black pepper, mixed spices, Stoughton's elixer, fine old red port, cyder, beer, ale, porter, seltzer water, small boxes of eau de cologne, acquebusade, lavender and rose water; best and plain hogskin hunting saddles, officers military saddles, ladies saddles, very handsome single horse chaise harnesses, double and single bridles, saddle cloths, girths, jockey whips, &c. umbrellas, gentlemen's silk hats, black and blue superfine broad cloth coats, riding coats, dimity and cotton pantaloons, fashionable waistcoats, flannel and nankeen jackets and trowsers, fine Welch flannel skin waistcoats with sleeves, black silk waistcoats, head and shoe brushes, Oriental and Naples soap, violet powder, pots and rolls pomatum, tooth brushes and powder, writing desks, red morocco cases with 2 elegant white ivory handled razors gold mounted and straps in each, shaving brushes, gentlemen's dressing cases complete; earthen and glass ware assorted, 4, 6, 8, 10, 12, 20, and 30dy nails, paint of all kinds, paint oil, soap, starch, candles, Dutch pipes, seines, seine and sewing twine, cotton bagging, Irish linens, cotton check, ginghams, blue niccanies, salempores, platilles, wood hoops, &c.

In Januarie 1812 verskyn daar 'n berig in die koerant dat verskeie persone aangegee het dat hulle die kolonie wil verlaat, oor "16 dae vanaf 3 Januarie". Hy het sy gesin daar gelaat om te gaan veg teen die Franse, as deel van die Engelse troepe. Dit het egter tot sy dood gelei: die Britse vloot het die Franse hawens geblokkeer sodat die Franse geen handel kon dryf met hulle geällieerdes nie. Dit het egter nie sonder stamp of stoot gegaan nie, en Cornelis het gesterf tydens 'n skermutseling met die Franse skip L'Aigle:

THE Undersigned are extremely sorry to announce the confirmation of the death of Capt. C. Van Dyk, of the ship Granger, late from this River; which melancholy event took place in France, in consequence of the severe wound he received in the thigh, in the action between said ship, and the French privateer L'Aigle, on the 1st of May last. He leaves a disconsolate widow and three children, bitterly to lament his loss. Demerary, October 10, 1812.

Die paartjie se jongste seun het na sy pa se dood terug na Engeland vertrek: Harry Stoe is op 14-jarige ouderdom in November 1813 in Holborn, Londen gedoop. Dit is waarskynlik dat sy broers saam met hom gegaan het: die oudste seun, Johannes Cornelis is op 28 Oktober 1817 in Holborn getrou met sy niggie Anna Frederica Wynanda Stoete. Sy was die dogter van Geertruijda van Dyk (Cornelis Sr. se suster) en Hendrik Anthonij Stoete - Cornelis sr. was een van die getuies by haar doop in Februari 1801. Hendrik Antonij Stoete was self ook 'n matroos in diens van die V.O.C., dus is dit waarskynlik dat hy en Cornelis bevriend was.[8] Dit wil dus ook voorkom asof die Amsterdamse Van Dyk-familie hegte bande gehad het, ondanks die groot afstande tussen die gesinne.

Of hierdie Nederlands-Suid-Afrikaanse seuns vandag nog 'n nageslag in Engeland het, het ek nie kon uitvind nie.

Anna Catharina het nie terug na Engeland gekeer nie, maar in Demerara gebly. Daar het sy in Mei of Junie 1817 met die Engelse William Robert Page getrou. Of die paartjie enige kinders gehad het, is onbekend. Sy het minder as vyf jaar ná hul troue, op 11 Januarie 1822 gesterf op hul suikerplantasie.

Voetnotas en verwysings:

[1] Genealogiese Instituut van Suid-Afria. (2016). Suid-Afrikaanse Familieregisters (Vol. 8:D)
[2] Heese, J.A. & Lombard, R.T.J. (red) (1989). Suid-Afrikaanse Geslagsregisters (Vol. 2, p.262). Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
[3] De Villiers, C.C. & Pama, C. (1981). Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families (Vol. 1, p.186). Kaapstad, Rotterdam: A.A. Balkema.
[4] De Villiers, C.C. (1890). Geslacht-register der Oude Kaapsche Familien (Vol. 1, p. 198). Kaapstad: van de Sandt, De Villiers & Co. Bpk. Drukkers.
[5] Stadsarchief Amsterdam, DTB Dopen. SAA Index op doopregister, Amsterdam, archief 5001, DTB 250, p.36(folio 23v), nr.6
[6] "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," database with images, FamilySearch ( https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WL4?cc=1478678&cat=993508 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1757-1779 > image 96 of 145; State Archives, Cape Province.
[7] "South Africa, Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Cape Town (Cape Province), 1695-1976," database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSFQ-SRXJ?i=117&cat=993508 : 21 May 2014), Marriages 1757-1803, 1737-1818 > image 118 of 876; State Archives, Cape Province.
[8] Nationaal Archief (Netherlands), Dutch East India Company, archive 1.04.02, inventory number 6791, folio 3. Permalink https://hdl.handle.net/10648/da551cda-c864-11e6-9d8b-00505693001d