Stammoeder: Helena Siewertsz.

Helena Siewerts was die moeder van vier van stamvader Joost van Dyk se kinders en as sulks een van die Van Dyk-stammoeders.

Helena is gebore as 'n slawekind en is moontlik die Helena wat op 18 Junie 1690 saam met vier ander kinders gedoop is:1

Den 18 Junius van de Edl. Comps. slavin kinderen gedoopt t[en]
overstaen van Sr. Andrijs de Man,
Padt, ghetuijgen van Comps. weegen
een kindt van Souwa, genaemt Helena een halfslagh
een kindt van Nasana, genaemt Maria, halfslagh
een kindt van Sabilla ghenaemt Dirk. halfslagh
een kindt van Maria, ghenaemt ghenaemt Adriaen halfsl[...]
een kindt van Wolla ghenaemt Margrieta een swarte

Delia Robertson van die First Fifty Years Project meen dat dit hier heel waarskynlik om Helena Siewerts gaan.2 Indien korrek, beteken dit dat Helena se moeder ene Souwa van Madagaskar was, ook 'n V.O.C.-slavin. Haar vader: onbekend. Dit is slegs bekend dat hy waarskynlik 'n wit man was, daar hierdie Helena in die dooprekord as "halfslag" beskryf word. Ek self twyfel of dit Helena Siewerts se doopinskrywing is. Op 29 Augustus 1717 is 'n slawekind met die naam Sara gedoop.3 Haar moeder was die slavin Helena van Souwa. Ek meen dat dit moontlik dieselfde Helena is as wat in 1690 gedoop is. Ons Helena was teen hierdie tyd nie meer 'n slaaf nie (en swanger met 'n ander kind).

Lang nie alle slawekinders is gedoop nie. In 'n brief aan die Amsterdamse Classis (kerkraad) in 1678/79, skryf Johannes Overnei dat daar aan 'n aantal vereistes voldoen moes word voordat 'n slawekind gedoop is. Eén van die vereistes was dat die meesters en eienaars die kinders moes "comen te presenteeren". Dit was vir die kerkman belangrik dat die V.O.C.-onderdane wat kinders by slavinne verwek, belowe om die kinders "te sullen onderwysen in de christel. religie" en hy noem dat die beloftes van hierdie geloof "beter betracht" behoort te word deur die mans en die vrou en kinders beter versorg moet word, want (skryf hy) "al syn het syne slaven, en lyfeigen, so syn het evenwel menschen, en behoorden door haere slavernie by ons niet erger maer geluckiger gemaeckt te worden".4

As bostaande wél haar dooprekord is, bied dit 'n kandidaat vir Helena se vader, alhoewel dit natuurlik ook moontlik is dat sy naam altyd onbekend sal wees. Die twee getuies by bostaande doop was Kaptein Willem Padt en Andrijs de Man. Dit was moontlik één of beide van hulle se kinders, of kinders van V.O.C.-onderdane wat by hulle in diens was. Opmerklik is dat Joost en Helena hulle tweede kind Andries genoem het, in 'n tydperk wat dit tradisie was om kinders na familielede te vernoem. Daar was in hierdie tyd nog geen ander Andries in die Suid-Afrikaanse Van Dyk-familie nie, dus verwys die moontlik na Helena se pa (of slegs die "meester" waaronder sy grootgeword het). Ek het nog nie daarin geslaag om meer oor hierdie "Andrijs de Man" te leer nie - kon geen V.O.C.-rekord vir hom vind nie.

'n Ander persoon wat ek 'n tyd lank ook as opsie beskou het, maar intussen verwerp het, is Anderies Siewertsz. Gesien die naam van Joost en Helena se tweede seun "Andries" en Helena se gegewe van, het dit sin gemaak om iemand met 'n soortgelyke naam en van te soek. Reedsgenoemde Andries Siewertsz. Hy was oorspronklik afkomstig van 'n plek genaamd Noordstapel en het in Mei 1690 by die V.O.C. aangesluit as matroos. By aankoms aan die Kaap het hy egter "wegens indispositie" in die hospitaal daar beland, waarna het tot 1693 as soldaat aan die Kaap gedien het.5 Daarn het hy aan die Kaap as Vryburger gewoon, tot êrens ná 1702:6 hy verskyn nog in die monsterrol van 1702; die volgende beskikbare monsterrol is eers van 1712, waarin hy nie verskyn nie (en dus waarskynlik reeds gesterf het, waarskynlik ongetroud, aangesien hy nooit saam met 'n vrou in die monsterrolle verskyn nie). Dit is dus onwaarskynlik dat hy Helena se vader was - as ons aanneem dat Helena ca 1690 gebore is.

Sommige amateur-stambome wat ek teëgekom het, gee Helena se tweede naam as Catharina. Ek het egter nog glad nie hierdie naam gesien in enige doop- of trourekords nie. Ook nie haar boedelinventaris of enige ander oorspronklike rekords nie. Waar en hoe dit ingesluip het, kan ek nie raai nie. Haar van, Siewerts, is 'n ander raaisel: het sy dit self gekies, of het sy toestemming van 'n eienaar/haar vader gekry om sy van te dra? Opmerklik is dat sy in 'n ander rekord moontlik as Helena Scholtz genoteerd staan (dit is nie 100% seker is dat na dieselfde Helena verwys word nie - sien onder).

Helena sou tot ten minste haar 22ste lewensjaar 'n V.O.C.-slavin wees: dit is eers vanaf hierdie ouderdom moontlik vir vroulike slawe gewees om hulself vry te koop, of hul eienaars om hul vry te stel. Alhoewel dit (nog) nie bekend is wie haar eienaar/meester oorspronklik was nie, weet ons dat sy in 1714 behoort het aan ene Burgert van Dijk: Joost van Dijk se broer. Joost het haar moontlik in hierdie tyd ontmoet, terwyl sy werksaam was by Burgert. Dit is egter ook moontlik dat Joost haar reeds vroeër ontmoet het en met haar 'n verhouding begin het, wat Burgert rede gegee het om haar te koop.

Hierdie tweede moontlik skryf ek toe aan die raaiselagtige doopdatum van Sybrand, Joost en Helena se eersgeborene. Aldus die Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk (1975) is Sybrand in 1712 gebore.7 Daar is egter geen rekord van hierdie geboorte nie en die Geslagregister verwys self nie na 'n bron nie. Ons kan bevestig dat die paartjie inderdaad 'n seun met hierdie naam gehad het uit ander dokumente, soos byvoorbeeld sy ma se boedelinventaris en sy pa se testament. Daar is wel 'n rekord van ene Sybrand wat op 9 Mei 1706 in Kaapstad gedoop is, met as moeder 'n slavin genaamd Helena Scholt.8 Het Helena op 'n tyd die van "Scholt" gebruik? Of is haar van bloot verkeerdelik genoteer? Die rekord in die slawedoopboek noem geen vader nie. Delia Robertson vermoed dat dit hier inderdaad om Joost se seun gaan. Alhoewel die "Scholt"-van my twyfelagtig maak, is dit wel vreemd dat daar nie elders 'n dooprekord vir Sybrand is nie. Die dooprekords het immers goed behoue gebly en al Joost en Helena se ander kinders is gedoop. Ook weet ons dat Helena oorspronklik 'n V.O.C.-slavin was, dus maak dit sin om Sybrand se doop in die V.O.C.-slawedoopboek te soek.

Sou hierdie Sybrand van Dyk se doop in 1706 wees? Uit die Kaapse Slawedoopboek.

Indien hierdie aanname korrek is, bied dit 'n interessante tydlyn vir Joost en Helena se verhouding. Joost het in 1705 'n verhouding gehad met Elisabet van Wijk (ook van slawe-afkoms). Hulle verhouding was nie uiters gelukkig of standvastig nie. Die paartjie het twee kinders saam gehad: Willem (≈ 21 April 1701) en Johannes (≈ 14 Junie 1705). Hierdie tweede seun is jonk oorlede, en Joost en Elisabet het uitmekaar gegaan (sy het Willem en 'n ander buite-egtelike dogter, Christina, saam met haar geneem). Joost se ander twee kinders (van sy eerste vrou, Catharina Verburgh), Burgert (*1697) en Hendrik (*1699), was nog onder sy sorg. Dit is moontlik dat Joost Helena ontmoet het terwyl hy nog saam met Elisabet was en dat 'n tweede verhouding, saam met die dood van Elisabet se tweede seun, die rede was vir Joost en Elisabet se skeiding. Dit is egter ook moontlik dat hy sy troos gesoek het in Helena se arms eers ná die dood van Johannes en sy skeiding met Elisabet. Hoe dit ook al sy, daar het nie baie tyd verloop tussen die doop van Johannes in Junie 1705 en die vermeende doop van Sybrand in Mei 1706 nie.

Indien een van bogenoemde teorieë korrek is, kan dit wees hoekom Burgert (Joost se broer) Helena as slaaf gekoop het. Hy was meer wel-af as sy broer en het dit moontlik gedoen sodat sy en Joost saam kon woon. As bogenoemde egter verkeerd is, beteken dit dat Joost Helena eers leer ken het, nadat Burgert haar as slavin in diens geneem het. Ons weet in elk geval dat Helena in 1714 aan Burgert behoort het: hy word as haar eienaar genoem in die dooprekord van Helena en Joost se tweede seun, Andries:9

1714. 19. Augusti. gedoopt een slaaven-kind van burgert Pietersz.
van Dijk: de vader Joost Pietersz. van Dijk; de
moeder Helena Siewerts: de getuigen Christiaan
van de kust, en Susanna van Batavia.
Andries.

Andries se doop, genoteer in die burger-slawedoopboek

Die doopgetuies hier was vermoedelik altwee slawe, soos getuig deur hul vanne "van de Kust" en "van Batavia". (Nog geen verdere ondersoek na hulle gedoen nie.)

Ná Andries se doop, is Helena deur Burgert vrygekoop of vrygestel: die res van hul kinders se dope verskyn onder dié van die vryburgers, almal te Kaapstad, waar die paartjie gevestig was (alhoewel Joost ook 'n plaas en opstal in die platteland gehad het). Hulle derde kind saam was ook genaamd Joost, gedoop 13 September 1716. Joost se tweede seun saam met sy eerste vrou (Catharina), genaamd Hendrik en toe reeds sowat 17 jaar oud, was die doopgetuie.

Joost se doop, te Kaapstad

Kort ná Andries se doop in 1716, het Joost in ongeveer November 2016 voor die Raad verskyn en versoek dat Helena gehospitaliseer word: volgens hom lei sy aan "cranksinnigheit", wat dit vir hom onmoontlik maak om verder saam met haar te woon.10 Hy versoek die Raad om haar op 'n veilige plek op sy eie onkoste te huisves en dat hy ondertussen vir hulle kinders sal sorg tot sy genees is. Dit wil voorkom asof die Raad geen besluit hieroor gemaak het nie: H.C.V. Leibbrandt in sy opsomming van die brondokument, maak dieselfde gevolgtrekking ("the council made no order")11, en bo-aan die dokument is, in 'n ander handskrif, die nota "nihil" gemaak.

Joost se pleidooi aan die Raad om Helena te hospitaliseer. (Met dank aan Johan van Breda.) Kliek op die beeld vir 'n groter weergawe.

Watse vorm sou Helena se "cranksinnigheit" aangeneem het - en wie sou die diagnose gemaak het? Gesien dat Andries se doop slegs 'n paar maande vroeër was, is dit moontlik dat postpartumdepressie (ook genoem nageboortedepressie) die oorsaak was, of bygedra het aan 'n bestaande psigiese aandoening. Post-traumatiese stresstoring as gevolg van haar jeug as slavin (waarskynlike fisieke geweld, verkragting, ens.) kan ook as oorsaak gedien het. Wat die oorsaak ook was, Joost het haar psigiese toestand as rede aangegee waarom hy nie met haar kon trou nie, en belowe om dit te doen as sy genees word ("door godes zegen van die plage mogte werden verlost, verbint hij sigh haar ten huijsvrouwe te sullen nemen").

Dit is moontlik dat dit die kerk was wat om hierdie rede nie toestemming wou gee dat Joost en Helena met mekaar kon trou nie. Joost het immers self haar toestand nie as hindernis gesien om hul verhouding voort te sit nie: Helena het die volgende jaar weer swanger geword met hulle laaste kind, Sophia. Joost se gesondheid het egter ook agteruitgegaan, sodanig dat hy genoop gevoel het om sy testament op te stel op 28 Januarie 1718, in sy huis in Tafelvallei.12 Hy was teen hierdie tyd reeds bedlêend ("siekelijk te bedde liggende") en het in sy testament berou dat hy en Helena nooit getrou het nie: "dat den comparant zyne goede voornemens van haar te willen trouwen door continuele verhinderingen niet heeft cunnen uijtvooren". Hy sterf vier dae later, op 1 Februarie 1718.13 Helena was steeds swanger met hulle laaste kind, Sophia, wat op 20 Maart 1718 gedoop is.14 Alhoewel dit uit sy inboedeling blyk dat hy hoegenaamd nie 'n ryk man was nie,15 het hy in sy testament aan Helena 500 ryksdaalders gelaat om te gebruik vir die sorg en opvoeding van hul kinders.

Sophia se doop. Getuies was Floris Abramsz. en Rebekka van Bengalen.

Sophia het self nie lank gelewe nie: sy was reeds oorlede teen die tyd wat haar ma se boedel in 1727 geïnventariseer was.

Dit is hier waar Anthonij Waagenaar/Anton Wagner, uit Hamburg, Duitsland, sy verskyning maak. Dit is nie bekend of hy en Helena mekaar al langer geken het nie, en of hulle éérs na Joost se dood ontmoet het nie. Anton was eers in diens van V.O.C. as matroos (1711-14), houtkapper (1715-1716) en haakbusskutter (1717-1718), voordat hy 'n vryburger geword het.16 Die paartjie is op 29 Maart 1722 in Kaapstad getroud,17 wat vermoedelik beteken dat sy van haar "kranksinnigheid" genees was (of dit beter leer beheer het). Helena was ten tye van hul huwelik reeds swanger met hul eerste kind: Christina (gedoop 31 Mei 1722).18

Christina se doop te Kaapstad. Die getuies was Helena en Antonij self.
Hulle het ook 'n tweede kind saam gehad: Anna Margaretha (gedoop 20 April 1727).19 Die lang tydperk tussen die twee dogters se geboorte suggereer dat sy moontlik 'n miskraam of doodgebore kind gehad het in ongeveer 1724-25.
Anna Margaretha se doop te Kaapstad. Die getuies was weereens Helena en Antonij self.
Haar huwelik met Anthonij Wagenaar het haar 'n gemaklike lewe gebied - veel beter as dié saam met Joost. Uit haar boedelinventaris is duidelik dat sy 'n groter huis gehad het as saam met Joost: hul huis was ook in Tafelvallei, en het 2 kamers, 'n kombuis en 'n solder gehad.20 Hulle het ook 'n "hofstede" genaamd Rapenburg gehad, geleë aan die Liesbeek-rivier. Sy het vier slawe gehad, en ook dinge vir plesier en vermaak, byvoorbeeld speelkaarte, Chinese skilderytjies en moontlik 'n voëltjie as troeteldier (haar boedelinventaris verwys na 'n voëlhokkie).

Helena is in 1727 oorlede: haar boedelinventaris wat na haar dood opgestel is, is 1 September 1727 gedateer. Dit is dus heel waarskynlik dat sy as gevolg van komplikasies van Anna Margaretha se bevalling oorlede is. Helena was ongeveer 37 ten tye van haar dood. Hierdie jongste doger, Anna Margaretha, is self vroeg oorlede, en Anton self nie lank daarna nie: in Anton se boedelinventaris van 21 Augustus 1728 word slegs hul eersgeborene, Christina, genoem.21 Ek kon verder egter geen rekord van Christina kry nie (geen huweliksrekord of as moeder in dooprekords nie, ook nie as koper by enige vendusies nie), wat aandui dat sy moontlik ook gesterf het voor sy volwasse was.

Helena Siewertsz *ca 1690, †1727 te Kaapstad
    & Joost Pietersz van Dijk
       1. Sijbrand, ca. 1706-1712
       2. Andries, ≈1714.08.19 te Kaapstad
       3. Joost, ≈1716.09.13 te Kaapstad
       4. Sophia, ≈1718.03.02 te Kaapstad, †jonk
    x Anton Wagner 1722.04.20 te Kaapstad
       1. Christina, ≈1722.05.31 te Kaapstad
       2. Anna Margaretha, ≈1727.04.20 te Kaapstad, †jonk


Verwysings
  1. Cape Town Baptisms 1690, op die webwerf van eGGSA.org. Getranskribeer deur Richard Ball. Hersien deur Corney Keller. Vanaf die Cape Archives Verbatim Copies VC 603, Nederduits Gereformeerde Kerk, baptisms 1665 to 1696. Oorspronklike is in die Nederduits Gereformeerde Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, as G1 1/1.

  2. Helena Siebers by die webwerf van www.e-family.co.za / The First Fifty Years, deur Delia Robertson.

  3. Company Slave Baptisms 1713-1742, op die webwerf van eGGSA.org.
    29 Augusti
    Een kind van:
    - Calivoetzie, van Madegascar, genaamt Godfried, half- slag,
    - Fatima, van Madegascar, genaamt Abraham, heel-slag,
    - Helena, van Souwa, van de Caap, genaamt Sara, half-slag

    Getranskribeer deur Corney Keller van 'n foto van die Kaapse Argiewe Verbatim-kopië dokument VC 605 - Cape Town baptisms 1713-1742, 'n fotostaat van die oorspronklike register, tans in die Nederduits Gereformeerde Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, as G1-8/2. Kopieë in die Kaapstad-argief (VC-reeks) en die Pretoria-argief (FC-reeks).

  4. Amsterdam Classis > Slave Baptisms > 1678-1679 (letter 13 Johannes Overneij) op die webwerf van eGGSA.org. Getranskribeer deur Corney Keller, vanaf die oorspronklike dokument in die Stadsarchief Amsterdam. NL-SAA, archiefinventaris 379, inventarisnummer 206, pp. 54-55.

  5. Waterland: Grootboek, 1690-1691. Nationaal Archief, Den Haag, Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), nommer toegang 1.04.02, inventarisnommer 5374, folio 136-137

  6. Cape Muster Roll 1693, Cape Muster Roll 1695, Cape Muster Roll 1696, Cape Muster Roll 1698, Cape Muster Roll 1700, Cape Muster Roll 1702, getranskribeer deur Richard Ball vanaf die Verbatim Kopieë VC 39, vol 1 in die Kaapse Argief.
    1693 [Stellenbosch] ... Andries Sieuvers
    1695 ... District van Stellenbosch ... Anderies Siebertsz
    1696 ... District Stellenbosch ... Andries Sieuwers
    1698 ... District Drakenstein ... Andries Siebers
    1700 ... 't District van Stellenbos ... Andries Sieuwerts
    1702 ... Onder 't district v. Drakenstein ... Andries Siwerts

  7. bl8, 51. Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria: 1975.

  8. "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," databasis met beelde, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-W2W?cc=1478678&wc=M6GW-86F%3A49605401 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1695-1712 > beeld 40 van 84; State Archives, Cape Province.

  9. "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," databasis met beelde, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WCV?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > beeld 99 van 109; Staatsargiewe Kaapprovinsie.

  10. Bo-aan die dokument verskyn die datum 13 November 1716. Dit is nie duidelik of dit die datum van Joost se versoek is, of die datum wat die dokument geregistreer is nie. KAB C. 1090 verwysing 141, bl. 669 van 1716. Met dank aan Johan van Breda.

  11. bl1230; Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Requesten (Memorials) 1715-1806, deur H.C.V. Leibbrandt. Volumes I-VI, 1905, 1906, 1988, 1989. Cape Times Ltd.; South African Library: Kaapstad.

  12. Testament: van Dijk, Joost Pietersz. 1718. CJ Vol. 2651 Ref. 28. Kaapstad Argief.

  13. Huis te Zilverstein: Grootboek en journaal, 1686-1687, folio 223. Nationaal Archief, Den Haag, Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), nummer toegang 1.04.02, inventarisnummer 5342

  14. "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," databasis met beelde, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-W26?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > beeld 8 van 109; Staatsargiewe Kaapstad.

  15. Inventories of the Orphan Chamber. Campe Town Archives Repository, South Africa, Testator: Joost Pietersse van Dyk. MOOC 8/3.77

  16. bl. 443 Personalia of Germans at the Cape, 1652-1806 deur J. Hoge. Argiefjaarboek: 1946. Cape Times Ltd: Kaapstad.

  17. Cape Town Marriages 1722, getranskribeer deur Corney Keller, vanaf die Kaapse Argiewe - Verbatim Kopieë: VC 621 - Cape Town marriages and memberships 1713-1756.
    Naamen der perzoonen, die zig in den egt begeeven hebben. ... Anthonij Waagenaar, van Hamburg, jongm: en Helena Siewerts, van Cabo de Goede Hoop.

  18. "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," databasis met beelde, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-W5L?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 >beeld 13 van 109; Staatsargief Kaapprovinsie.

  19. "South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ," databasis met beelde, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-47R?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > beeld 23 van 109; Staatsargiewe Kaapprovinsie.

  20. Inventories of the Orphan Chamber. Campe Town Archives Repository, South Africa, testator Helena Siebers. MOOC 8/5.3.

  21. Inventories of the Orphan Chamber. Campe Town Archives Repository, South Africa, testator Anthonij Wagenaar. MOOC 8/6.19.